2 Samuel 15:28-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Jy sal sien dat ek by die driwwe na die woestyn toe wag totdat ek van julle hoor wat in Jerusalem gebeur.”

29. Sadok en Abjatar het toe die ark van God na Jerusalem toe teruggeneem en daar gebly.

30. Dawid het met die pad geloop wat teen die Olyfberg opgegaan het en het die hele tyd gehuil. Sy kop was toegemaak en hy was kaalvoet as ’n teken van rou. Die mense saam met hom het ook hulle koppe toegemaak en gehuil terwyl hulle teen die skuinste opgegaan het.

31. Iemand het vir Dawid gesê: “Agitofel, u raadgewer, is deel van Absalom se sameswering.” Toe bid Dawid: “O Here, dwarsboom tog die raad van Agitofel!”

32. Toe Dawid die kruin bereik, het hy daar voor God gebuig. Gusai die Erekiet het onverwags daar aangekom met klere wat geskeur is en grond op sy kop.

33. Maar Dawid sê vir hom: “As jy saam met my gaan, sal jy vir my ’n las wees.

34. Gaan terug na Jerusalem toe en sê vir Absalom: ‘Ek is u onderdaan, Koning. Ek was eers in u pa se diens, maar nou is ek tot u diens.’ Dan kan jy Agitofel se raad dwarsboom.

35. Sadok en Abjatar, die priesters, is daar tot jou beskikking. Sê vir hulle watter planne in die paleis beraam word.

36. Hulle twee seuns Agimaäs en Jonatan is saam met hulle daar. Enigiets wat jy hoor, kan jy deur middel van hulle vir my laat weet.”

37. Dawid se vriend Gusai het in Jerusalem aangekom net toe Absalom die stad binnekom.

2 Samuel 15