15. “Wat U Majesteit sê, sal ons doen,” antwoord hulle.
16. Die koning en sy huishouding het toe dadelik per voet vertrek. Hy het net tien van sy byvroue agtergelaat om die paleis te versorg.
17. Die koning en sy mense het te voet gevlug, maar by die laaste huis het hulle gaan stilstaan.
18. Dawid se manskappe het almal by hom verby beweeg, asook die Filistynse huursoldate en die 600 man uit Gat.Terwyl hulle voor die koning verbytrek,
19. vra hy vir Ittai, die leier van die manskappe uit Gat: “Hoekom kom jy saam met ons? Gaan terug met jou manne na koning Absalom toe, want jy is ’n uitlander, ’n vreemdeling in ballingskap.
20. Jy het maar kort gelede hier aangekom. Moet ek jou dan laat rondswerf terwyl ek nie weet waarheen ons gaan nie? Gaan gerus terug en neem jou manskappe saam met jou, en mag die Here se goedheid en trou met jou wees.”
21. Maar Ittai antwoord die koning: “So waar as die Here leef en u lewe, waar my heer die koning ook al is, daar sal ek ook wees, in dood of in lewe.”
22. Dawid het geantwoord: “Goed dan, kom saam!” Ittai en sy 600 manne en hulle families het toe saamgegaan.
23. Daar was groot droefheid in die stad en daar is hardop gehuil toe die koning en sy volgelinge verbytrek. Hulle het deur die Kidronvallei gegaan op pad na die woestyn toe.
24. Sadok en al die Leviete wat die ark van die verbond van God dra, was ook by. Hulle het die ark van God langs die pad neergesit totdat almal uit die stad was.
25. Dawid beveel toe vir Sadok: “Neem die ark van God terug na die stad toe. As die Here my genadig is, sal Hy my terugbring om weer die ark en die heiligdom te sien.
26. Maar as Hy sê: ‘Ek is nie met jou tevrede nie,’ sal ek aanvaar wat Hy ook al besluit.”
27. Die koning sê toe vir Sadok die priester: “Kyk, jy is mos ’n siener! Gaan vreedsaam terug stad toe, jy en jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar.
28. Jy sal sien dat ek by die driwwe na die woestyn toe wag totdat ek van julle hoor wat in Jerusalem gebeur.”