2 Samuel 12:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Ek het sy huis vir jou gegee, asook sy vroue en die koninkryke van Israel en Juda. En, as dit nie genoeg was nie, sou Ek jou nog baie meer gegee het.

9. Hoekom het jy dan die woord van die Here geminag en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard laat vermoor en sy vrou gevat. Jy het hom deur die swaard van die Ammoniete doodgemaak!

10. Van nou af sal die swaard ’n permanente bedreiging vir jou familie inhou omdat jy My verag het en Urija se vrou vir jouself toegeëien het.

11. “Omdat jy dit gedoen het, sal Ek, die Here, toesien dat jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vroue voor jou oë vir ’n ander man gee, en hy sal oop en bloot, in die helder daglig, by hulle gaan slaap.

12. Jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal dit openlik voor die hele Israel doen.”

13. Toe bely Dawid sy skuld en sê vir Natan: “Ek het teen die Here gesondig.”Natan antwoord hom: “Die Here het jou sonde vergewe sodat jy nie oor hierdie sonde sal sterf nie.

14. Maar jy het vir die vyande van die Here geleentheid gegee om Hom te laster. Daarom sal hierdie kind sterf.”

15. Nadat Natan daar weg is, het die Here die kind van Urija se vrou en Dawid dodelik siek laat word.

16. Dawid het die Here gesmeek om die kind se lewe te spaar. Hy het gevas, en die hele nag op die vloer gelê.

2 Samuel 12