2 Kronieke 6:13-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Hy het ’n bronsplatform van twee en ’n half meter lank, twee en ’n half meter breed en een en ’n half meter hoog gemaak. Dit het in die middel van die voorhof van die tempel gestaan. Hy het op die platform voor die hele gemeente gestaan, en gekniel met sy hande hemelwaarts uitgestrek.

14. Toe het hy gebid: “Here, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien.

15. U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul.

16. En nou, Here, God van Israel, bevestig tog u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy gedoen het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’

17. Here God van Israel, laat tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, vervul word.

18. “Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde tussen mense sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het!

19. Luister tog na my gebed en smeking, Here my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar tot U rig.

20. Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig.

21. Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog.

22. “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld moet aflê,

23. hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry soos hy verdien.

24. “As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek,

25. luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk Israel en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle en hulle voorouers gegee het.

26. “As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het,

2 Kronieke 6