2 Kronieke 5:7-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Daarna het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek in die binneste heiligdom, die Allerheiligste, gebring en dit onder die gerubs neergesit.

8. Die gerubs het hulle vlerke oor die plek van die ark gesprei en die ark met sy drahoute oordek.

9. Hierdie drahoute was so lank dat hulle punte vanaf die tempel se hoofingang, die heilige plek, gesien kon word, maar nie van buite af nie. Dit is tot vandag toe steeds daar.

10. Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by die Horebberg daarin gesit het. Dit was toe die Here ’n verbond met sy volk Israel gesluit het ná hulle uit Egipte vertrek het.

11. Toe het die priesters die heiligdom verlaat. Al die priesters teenwoordig het hulleself gereinig, of hulle daardie dag aan diens was of nie.

12. Die Leviete wat musikante was, Asaf, Heman, Jedutun, saam met hulle seuns en broers, het oos van die altaar gestaan. Hulle het fyn linneklere aangehad en op simbale, harpe en liere gespeel. By hulle was daar 120 priesters wat op trompette geblaas het.

13. Die trompetspelers en sangers het saam as eenheid opgetree met lofsang en dank aan die Here. Met begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle gesing en met hierdie woorde die Here geprys:“Hy is goed!Sy troue liefde duur vir altyd!”Op daardie oomblik het ’n wolk die tempel van die Here gevul.

14. Die priesters kon nie hulle verpligtings nakom vanweë die wolk nie, want die heerlike teenwoordigheid van die Here het die tempel van God gevul.

2 Kronieke 5