2 Kronieke 26:19-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Ussia was woedend en het geweier om die wierookpan neer te sit. Terwyl hy kwaad vir die priesters daar voor die wierookaltaar gestaan het in die tempel van die Here, het melaatsheid skielik op sy voorkop uitgebreek.

20. Toe die hoëpriester Asarja en die ander priesters die melaatsheid op sy voorkop sien, het hulle hom so gou moontlik uit die tempel verwyder. Die koning was self haastig om daar uit te kom, want die Here het hom getref.

21. Die koning Ussia het aan melaatsheid gely tot die dag van sy dood. Hy het in ’n huis in afsondering gewoon, wég van die tempel van die Here. Sy seun Jotam is in beheer van die paleis gestel, en hy het oor die volk van die land regeer.

22. Die ander gebeurtenisse tydens Ussia se regering, van die begin tot die einde, is opgeteken deur die profeet Jesaja, seun van Amos.

23. Ussia het gesterf. Hy is begrawe in ’n begraafplaas van die konings, maar nie in die familiegraf nie, omdat hy melaats was. Sy seun Jotam het in sy plek koning geword.

2 Kronieke 26