2 Kronieke 20:10-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. “Kyk nou wat hierdie leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge doen. Toe Israel uit Egipte getrek het, het U ons voorouers nie toegelaat om hierdie volke aan te val en hulle te verwoes nie.

11. Kyk hoe beloon hulle ons nou! Hulle kom om ons uit u land wat U vir ons gegee het, te verdryf.

12. Ons God, sal U nie oor hulle oordeel nie? Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.”

13. Terwyl die manne van Juda met hulle vroue, kinders en suigelinge voor die Here gestaan het,

14. het die Gees van die Here in die vergadering oor een van die manne gekom. Sy naam was Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, ’n Leviet uit die nageslag van Asaf.

15. Hy het gesê: “Luister, alle inwoners van Juda en Jerusalem! Luister, koning Josafat! Dit is wat die Here vir julle sê: Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.

16. Môre moet julle teen hulle uittrek. Julle sal hulle teëkom wanneer hulle opkom teen die pas van Sis, by die einde van die vallei wat uitmond op die Jeruelwoestyn.

2 Kronieke 20