17. Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en het agt jaar in Jerusalem regeer.
18. Maar Joram het die slegte voorbeeld gevolg van die konings van Israel net soos die dinastie van Agab gedoen het, want hy was met een van Agab se dogters getroud. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here.
19. Maar die Here wou Juda nie vernietig nie omdat Hy sy dienaar Dawid beloof het dat sy nageslag vir altyd op sy troon sal sit.
20. Tydens Joram se bewind het die Edomiete teen Juda in opstand gekom en hulle eie koning aangestel.
21. Joram het sy strydwaens gemonster en die dorp Saïr aangeval. Die Edomiete het hom en sy strydwa-offisiere omsingel. In die nag slaag hy om deur te breek, maar sy leër het huis toe gevlug.
22. Daarna was Edom onafhanklik van Juda tot vandag toe. In daardie tyd het die dorp Libna ook in opstand gekom.
23. Die ander gebeurtenisse tydens Joram se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda.
24. Hy het gesterf en is in die familiegraf in die Dawidstad begrawe. Sy seun Ahasia het hom as koning opgevolg.
25. Ahasia, seun van Joram, het koning geword in die twaalfde jaar van koning Joram van Israel. Koning Joram was die seun van Agab.
26. Ahasia was 22 jaar oud toe hy koning geword het en hy het een jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n kleindogter van koning Omri van Israel.
27. Ahasia het die slegte voorbeeld van koning Agab se familie gevolg. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here omdat hy in die familie van Agab ingetrou het.
28. Ahasia het aangesluit by koning Joram van Israel, die seun van Agab, wat besig was om oorlog te maak teen koning Gasael van Aram by Ramot in Gilead. Die Arameërs het koning Joram in die geveg gewond.
29. Hy het teruggegaan na Jisreël toe om te herstel van sy wonde wat die Arameërs hom in Ramot toegedien het. Dit het gebeur tydens die oorlog met Gasael, koning van Aram. Koning Ahasia van Juda het Joram, die seun van Agab, daar in Jisreël besoek omdat hy siek was.