2 Konings 5:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Naäman was die koning van Aram se bevelvoerder van die leër. Hy was ’n belangrike man en hoog in aansien by die koning, want die Here het deur hom groot oorwinnings aan Aram gegee. Hoewel Naäman ’n magtige krygsman was, was hy melaats.

2. Die Arameërs het strooptogte in die land Israel uitgevoer en ’n jong Israelitiese meisie gevang. Sy het die diensmeisie van Naäman se vrou geword.

3. Sy het vir haar meesteres gesê: “As Meneer net na die profeet in Samaria kan gaan, sal hy hom van sy melaatsheid gesond maak.”

4. Naäman het die koning gaan vertel wat die meisie uit Israel gesê het.

5. “Gaan gerus,” sê die koning van Aram. “Ek sal ’n brief skryf wat jy vir die koning van Israel kan gee.” Naäman het toe gegaan. Hy het 342 kilogram silwer, 68 kilogram goud en tien stelle klere saamgeneem.

6. Hy het die brief aan die koning van Israel gegee. Dit het gelui: “Ek stuur my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe sodat jy hom van sy melaatsheid kan gesond maak.”

2 Konings 5