2 Konings 3:13-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. “Ek wil niks met jou te doen hê nie,” sê Elisa vir die koning van Israel. “Gaan na jou pa en ma se profete!”Maar koning Joram antwoord: “Nee! Die Here het ons drie konings hiernatoe laat kom om ons aan die koning van Moab oor te lewer.”

14. Elisa antwoord: “So seker as die Here, die Almagtige, leef, Hy vir wie ek dien, ek sou my nie eens aan jou gesteur het nie as dit nie was vir die respek wat ek vir koning Josafat van Juda het nie.

15. Laat iemand wat die lier kan speel, hiernatoe kom.”Terwyl iemand op die lier speel, kom die krag van die Here oor Elisa.

16. Hy sê: “Dit is wat die Here sê: Hierdie droë vallei sal met poele water gevul word.

17. Julle sal nie wind of reën sien nie, sê die Here, maar hierdie vallei sal vol water word. Julle sal genoeg hê vir julleself en vir julle beeste en ander diere.

18. Dis nog maar die minste wat die Here sal doen. Hy sal vir julle ook die oorwinning oor die leër van Moab gee.

19. Julle sal uitsoekstede verower, selfs die versterkte stede. Julle sal al die mooi bome afkap, hulle fonteine toestop en hulle landerye met klippe verniel.”

20. En dit was ook so. Die volgende dag teen die tyd van die oggendoffer het daar skielik water gekom! Dit het uit die rigting van Edom aangestroom sodat daar gou-gou oral water was.

21. Intussen het al die Moabiete gehoor dat die konings opgetrek het om teen hulle te veg. Hulle het toe elke weerbare man, jonk en oud, opgeroep en hulle al langs die grens laat stelling inneem.

22. Toe hulle die oggend opstaan, het die son oor die water geskyn sodat dit so rooi soos bloed gelyk het.

23. “Dit is bloed!” roep die Moabiete uit. “Die konings het mekaar aangeval en maak nou mekaar dood! Kom, laat ons die buit gaan plunder!”

2 Konings 3