2 Konings 25:5-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Maar die Galdese leër het hulle agternagesit en die koning op die Jerigovlakte ingehaal. Teen hierdie tyd was al sy manskappe van hom af verstrooi.

6. Hulle het hom gevang en na die koning van Babel in Ribla gebring waar ’n vonnis oor hom uitgespreek is.

7. Die koning van Babel het al sy seuns voor Sedekia doodgemaak. Daarna het hulle sy oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe geneem.

8. In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende jaar van koning Nebukadnesar se bewind in Babel, het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was die hoof van die lyfwag en ’n amptenaar van die koning van Babel.

9. Hy het die tempel van die Here, die koninklike paleis, al die huise en al die belangrike geboue in Jerusalem afgebrand.

10. Daarna het die Galdese soldate onder sy bevel die muur van Jerusalem afgebreek.

11. Nebusaradan, hoof van die lyfwag, het verder die mense wat in die stad agtergebly het, dié wat na die koning van Babel oorgeloop het en almal wat oorgebly het, in ballingskap weggeneem.

12. Hy het die armste mense in Juda laat agterbly om die wingerde en landerye te bewerk.

13. Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die tempel van die Here was, stukkend gebreek en die brons na Babel toe gevat.

2 Konings 25