1. Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy het 55 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Gefsiba.
2. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het die afskuwelike gebruike van die heidennasies wat die Here voor die Israeliete uit die land gedryf het, nagevolg.
3. Hy het die hoogtes wat sy pa, Hiskia, vernietig het, weer opgebou. Hy het Baälaltare en Asjerapale opgerig net soos koning Agab van Israel gedoen het. Hy het ook voor al die hemelliggame gebuig en hulle aanbid.
4. Hy het selfs afgodsaltare opgerig in die tempel van die Here, die plek waarvan die Here gesê het: “In Jerusalem wil Ek my Naam vestig.”