7. Toe sê Jesaja vir Hiskia se dienaars: “Gaan maak ’n pap van vye!” Hulle het dit gedoen, dit op die sweer gesit en Hiskia het daarna beter gevoel.
8. Hiskia het vir Jesaja gesê: “Watter teken sal die Here my gee om te bevestig dat Hy my sal gesond maak sodat ek oor drie dae weer in die tempel van die Here kan ingaan?”
9. Jesaja antwoord hom: “Dit is die teken wat die Here vir jou gee om te bevestig dat Hy sal doen wat Hy beloof het: Wil jy hê dat die skaduwee tien trappe vorentoe moet gaan of tien trappe agteruit?”
10. “Die skaduwee beweeg altyd vorentoe,” antwoord Hiskia. “Laat dit liewer agteruit gaan.”
11. Die profeet Jesaja vra toe vir die Here om dit te doen en die Here het die skaduwee op die trappe van Agas tien trappe agteruit laat gaan.
12. Kort hierna het Merodak-Baladan, seun van Baladan en koning van Babel, goeie wense en ’n geskenk aan Hiskia gestuur omdat hy verneem het dat Hiskia baie siek was.
13. Hiskia het die gesante verwelkom en alles in sy skatkamers vir hulle gewys: die silwer, die goud, die speserye en die reukolies. Hy het hulle ook geneem om sy wapens en ander skatte te sien. Daar was niks in sy paleis of koninkryk wat Hiskia nie vir hulle gewys het nie.
14. Daarna gaan die profeet Jesaja na koning Hiskia toe en vra hom: “Wat wou hierdie manne hê? Waar kom hulle vandaan?”Hiskia antwoord hom: “Hulle kom van ’n ver land, van Babel af.”
15. “Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja.“Hulle het alles gesien,” antwoord Hiskia. “Ek het vir hulle alles gewys wat ek besit, al my skatte.”