2 Konings 12:6-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. In die 23ste regeringsjaar van Joas het die priesters egter nog nie die vervalle dele aan die tempel herstel nie.

7. Koning Joas roep toe vir Jojada en die ander priesters en vra vir hulle: “Hoekom het julle nie die tempel herstel nie? Julle mag niks meer van die gawes vir julle eie behoeftes gebruik nie. Van nou af moet alles gebruik word om die tempel te herstel.”

8. Die priesters onderneem toe om nie meer geld van die mense te kollekteer nie. Hulle het ook ooreengekom om nie self die herstelwerk van die tempel te doen nie.

9. Die priester Jojada het ’n kis gevat, ’n gat in die deksel geboor en dit by die altaar regs van die ingang van die tempel van die Here neergesit. Die priesters wat by die ingang waggehou het, het al die geld wat na die tempel van die Here gebring is, in die kis gegooi.

10. Telkens wanneer die kis vol geld was, het die sekretaris van die koning en die hoëpriester die geld wat na die tempel van die Here gebring is, getel en in sakke gesit.

11. Daarna het hulle die geld aan die opsieners van die bouery gegee. Hulle, weer, het dit gebruik om die werkers wat die tempel van die Here herstel het, te betaal. Daar was skrynwerkers en bouers,

12. messelaars en klipkappers. Hulle het ook die geld gebruik om hout en gekapte klip te koop waarmee die tempel van die Here herstel is. Ook ander uitgawes ten opsigte van die herstelwerk van die tempel het hulle hieruit betaal.

13. Die geld wat na die tempel toe gebring is, is nie gebruik om silwerbekers, snuiters vir die lampe, wasbakke, trompette of ander gereedskap van goud of silwer vir die tempel van die Here te maak nie.

14. Dit is aan die werksmense betaal om die tempel te herstel.

15. Daar is nie boekgehou van die geld wat aan die opsieners van die bouery gegee is nie, want hulle was eerlik en getrou.

16. Die geld wat gegee is vir skuldoffers en sonde-offers is egter nie na die tempel van die Here gebring nie. Dit was vir die priesters bedoel.

17. Ongeveer hierdie tyd het koning Gasael van Aram teen Gat oorlog gemaak en dit verower. Daarna het hy besluit om teen Jerusalem op te trek.

2 Konings 12