3. Gedurende die ses jaar dat Atalia regeer het, is Joas en sy oppasser in die tempel van die Here weggesteek.
4. In die sewende jaar van Atalia se regering het die priester Jojada die bevelvoerders oor honderd van die Kariërs en die hardlopers na hom toe laat kom in die tempel van die Here. Hy het met hulle ’n ooreenkoms aangegaan en hulle ’n eed in die tempel van die Here laat aflê. Daarna het hy die koning se seun aan hulle gewys.
5. Jojada het hulle beveel: “Julle moet soos volg te werk gaan: ’n Derde van julle wat op die Sabbat aan diens is, moet die koninklike paleis bewaak.
6. Nog ’n derde van julle moet by die Surpoort wagstaan. Die laaste derde moet by die poort agter die hardlopers wagstaan. Al drie afdelings moet om die beurt die paleis bewaak.
7. Die twee ander eenhede wat op die Sabbat van diens af gaan, moet wagstaan by die koning in die tempel van die Here.
8. Vorm ’n lyfwag vir die koning en hou julle wapens gereed. Enige persoon wat deur julle geledere wil kom, moet doodgemaak word. Bly die hele tyd by die koning.”