1 Samuel 23:9-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Maar Dawid het van Saul se planne gehoor. Hy vra toe vir Abjatar om die skouerkleed te bring en by die Here te hoor wat hom te doen staan.

10. Dawid het gebid: “O Here, God van Israel, ek, u dienaar, het gehoor dat Saul kom om Keïla te vernietig omdat ek hier is.

11. Sal die inwoners van Keïla my aan hom uitlewer? En sal Saul regtig kom soos ek verneem het? Here, God van Israel, sê my, asseblief.”Die Here antwoord hom: “Ja, hy sal kom.”

12. Dawid vra weer: “Sal hierdie inwoners van Keïla my en my mense aan Saul uitlewer?”En die Here antwoord: “Ja, hulle sal jou verraai.”

13. Dawid en sy manskappe, nou omtrent 600 man, het Keïla verlaat en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid gevlug het, het hy nie na Keïla toe gegaan nie.

14. Dawid het in bergskuilings in die woestyn en in die heuwelagtige landstreek van Sif gaan bly. Saul het hom gedurig gesoek, maar God het nie toegelaat dat Saul hom vang nie.

1 Samuel 23