17. Jonatan het sy eed van vriendskap met Dawid hernu, want Jonatan was besonder geheg aan hom – hy het hom liefgehad soos homself.
18. Jonatan sê verder: “Môre is dit nuwemaan. Jou afwesigheid sal opval omdat jou sitplek leeg sal wees.
19. Op die derde dag moet jy teen die aand na die plek gaan waar jy voorheen weggekruip het. Wag daar by die kliphoop.
20. Ek sal kom en drie pyle daarheen skiet asof ek teikenskiet.
21. Ek sal dan ’n seun stuur om die pyle te gaan soek. As ek vir hom sê: ‘Hulle is aan die duskant; bring dit,’ weet dan so waar as die Here leef dat alles reg is en dat daar geen probleme is nie.
22. Maar as ek vir hom sê: ‘Die pyle lê aan die anderkant,’ moet jy gaan, want die Here stuur jou weg.
23. En mag die Here ons help om die beloftes aan mekaar na te kom – Hy is immers getuie daarvan.”
24. Dawid het toe volgens afspraak in die veld weggekruip. Toe die Nuwemaanfees begin, het die koning aangesit om te eet.
25. Hy het op sy gewone plek teen die muur gaan sit, met Jonatan teenoor hom en Abner langs Saul. Dawid se plek was egter leeg.
26. Daardie dag het Saul niks gesê nie, want hy het gedink: “Dawid is dalk seremonieel onrein. Dis seker hoekom hy nie hier is nie.”
27. Maar toe Dawid se plek die volgende dag ook weer leeg is, vra Saul vir Jonatan: “Hoekom het die seun van Isai dan nie gister en vandag vir die ete opgedaag nie?”
28. Jonatan het geantwoord: “Dawid het my dringend verlof gevra of hy Betlehem toe kon gaan.
29. Hy het gesê: ‘Laat my asseblief toe om die familie-offer op die dorp by te woon. My broer het my beveel om te kom. As jy dit goedvind, gee my toestemming om te gaan en my broers te besoek.’ Dis hoekom hy nie hier by die koning se tafel is nie.”
30. Maar Saul het in woede teenoor Jonatan uitgebars: “Seun van ’n opstandige en rebelse vrou! Jy verkies mos die seun van Isai tot jou skande en die van jou ma wat jou in die wêreld gebring het!
31. Solank daardie seun van Isai lewe, sal jy nooit koning word nie. Stuur en bring hom hier, want hy moet sterf!”
32. “Maar wat het hy dan gedoen?” vra Jonatan. “Hoekom moet hy doodgemaak word?”
33. Toe tel Saul sy spies op om na Jonatan te gooi. Jonatan het besef sy pa het vas besluit om Dawid dood te maak.