1 Samuel 20:15-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Wees getrou aan my familie, selfs wanneer die Here jou vyande een vir een van die aarde af wegvee.

16. Mag die huis van Dawid nie Jonatan se familie uitroei nie, anders sal die Here Dawid deur middel van sy vyande vergeld.”

17. Jonatan het sy eed van vriendskap met Dawid hernu, want Jonatan was besonder geheg aan hom – hy het hom liefgehad soos homself.

18. Jonatan sê verder: “Môre is dit nuwemaan. Jou afwesigheid sal opval omdat jou sitplek leeg sal wees.

19. Op die derde dag moet jy teen die aand na die plek gaan waar jy voorheen weggekruip het. Wag daar by die kliphoop.

20. Ek sal kom en drie pyle daarheen skiet asof ek teikenskiet.

21. Ek sal dan ’n seun stuur om die pyle te gaan soek. As ek vir hom sê: ‘Hulle is aan die duskant; bring dit,’ weet dan so waar as die Here leef dat alles reg is en dat daar geen probleme is nie.

22. Maar as ek vir hom sê: ‘Die pyle lê aan die anderkant,’ moet jy gaan, want die Here stuur jou weg.

23. En mag die Here ons help om die beloftes aan mekaar na te kom – Hy is immers getuie daarvan.”

24. Dawid het toe volgens afspraak in die veld weggekruip. Toe die Nuwemaanfees begin, het die koning aangesit om te eet.

25. Hy het op sy gewone plek teen die muur gaan sit, met Jonatan teenoor hom en Abner langs Saul. Dawid se plek was egter leeg.

26. Daardie dag het Saul niks gesê nie, want hy het gedink: “Dawid is dalk seremonieel onrein. Dis seker hoekom hy nie hier is nie.”

1 Samuel 20