1 Samuel 12:20-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. “Moenie bang wees nie,” stel Samuel hulle gerus. “Julle het gewis verkeerd gedoen, maar maak nou seker dat julle die Here met volle toewyding aanbid en dat julle nie op enige wyse julle rug op Hom draai nie.

21. Moenie weer die nuttelose beelde aanbid nie. Hulle kan julle nie help of verlos nie. Hulle is totaal nutteloos!

22. Ter wille van sy grote Naam sal die Here nie sy volk verlaat nie. Hy het julle ’n besondere volk vir Homself gemaak.

23. “Wat my betref, ek sal sekerlik nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal ook voortgaan om julle te leer wat goed en reg is.

24. Maar dien die Here in opregtheid. Dink aan al die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het.

25. Maar as julle voortgaan om te sondig, sal julle en julle koning uitgewis word.”

1 Samuel 12