13. Die koning het ook vir Salomo instruksies gegee oor die dienswerk van die verskillende afdelings priesters en Leviete in die tempel van die Here. Hy het spesifikasies gegee vir die artikels in die Here se tempel wat vir aanbidding en diens gebruik moes word.
14. Dawid het instruksies gegee oor hoeveel goud en silwer vir die noodsaaklike artikels gebruik moes word.
15. Hy het ook vir Salomo gesê watter gewig in goud nodig was vir die goue kandelare en lampe, en hoeveel silwer vir die silwerkandelare en -lampe nodig was, ooreenkomstig hoe elkeen gebruik sou word.
16. Hy het ook die hoeveelheid goud aangedui vir elke tafel waarop die heilige brode gesit moes word, en die hoeveelheid silwer vir ander tafels.
17. Dawid het ook die hoeveelheid goud bepaal vir die vurke, komme en kanne wat van suiwer goud gemaak moes word, en vir die goue bekers, en die hoeveelheid silwer vir die silwerbekers.
18. Laastens het hy ook die hoeveelheid gesuiwerde goud bepaal vir die wierookaltaar en die goue gerubs, wie se vlerke uitstrek oor die verbondsark van die Here.
19. “Elke deel van hierdie plan,” het Dawid vir Salomo gesê, “is deur die hand van die Here op papier vir my gegee.”
20. Dawid het ook vir sy seun Salomo gesê: “Wees sterk en vol moed, en doen die werk. Moenie bang wees of moedeloos word oor die groot werk nie. Want die Here God, my God, is met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of jou verlaat nie. Hy sal toesien dat jy al die werk aan die tempel van die Here sal voltooi.
21. Die verskillende afdelings van priesters en Leviete sal in die tempel van God dien. Daar is vakmanne met allerlei bekwaamhede tot jou beskikking. Die leiers en die hele volk is tot jou beskikking.”