1. Dawid het al die amptenare van Israel na Jerusalem toe ontbied, die stamleiers, bevelvoerders van die twaalf leërgroepe, die ander generaals en kapteins, opsigters oor die koninklike eiendom en vee, paleisamptenare, magtige manne en ander soldate in die koninkryk.
2. Koning Dawid het opgestaan en hulle toegespreek: “My broers en my volk! Dit was my begeerte om ’n huis vir die verbondsark van die Here te bou om as ’n voetbankie vir ons God te dien. Ek het voorbereidings getref om dit te bou.
3. Maar God het vir my gesê: ‘Jy mag nie ’n tempel bou om my Naam te eer nie, want jy is ’n soldaat wat baie bloed vergiet het.’
4. “Tog het die Here, die God van Israel, my uit al my pa se familielede gekies om vir altyd koning oor Israel te wees. Hy het die stam Juda gekies om te regeer, en uit al die families van Juda het Hy my pa se familie gekies, en Hy het besluit om my uit my pa se familie koning te maak oor die hele Israel.
5. Die Here het my baie kinders gegee, en onder hulle het Hy Salomo gekies om ná my op die troon van sy koninkryk van Israel te sit.
6. Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo sal my tempel en my voorhowe bou, want Ek het hom as my seun uitgekies, en Ek sal sy Vader wees.
7. As hy aanhou om my gebooie en regulasies te gehoorsaam soos hy nou doen, sal Ek sy koninkryk vir altyd bevestig.’