1 Kronieke 12:19-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Manne uit Manasse het ook uit die Israelitiese leër na Dawid oorgeloop toe hy saam met die Filistyne teen Saul kom veg het. Soos dit gebeur het, het die Filistynse leiers geweier dat Dawid en sy manne saam met hulle gaan. Ná baie bespreking het hulle hulle teruggestuur, want hulle het gesê: “Dit sal ons lewens kos as Dawid sy lojaliteit omswaai agter Saul aan en teen ons draai.”

20. Hier is ’n lys van die manne uit Manasse wat na Dawid oorgeloop het toe hy na Siklag teruggekeer het: Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai. Elkeen was die aanvoerder van 1 000 troepe uit die stam van Manasse.

21. Hulle het Dawid gehelp om bendes rowers te jag, want hulle was almal dapper en ervare soldate wat aanvoerders in sy leër geword het.

22. Dag na dag het meer manne in Hebron by Dawid aangesluit totdat hy ’n groot leër gehad het, soos ’n leër van God.

23. Dit is die getalle gewapende soldate wat by Dawid in Hebron aangesluit het. Hulle was almal angstig dat Dawid koning word in die plek van Saul, soos die Here belowe het.

24. Van die stam van Juda was daar 6 800 soldate gewapen met skild en spies.

25. Van die stam van Simeon was daar 7 100 soldate.

26. Van die stam van Levi was daar 4 600 soldate.

27. Dit het Jojada ingesluit, wat leier van die familie van Aäron was, met 3 700 onder sy bevel.

28. Dit het ook Sadok ingesluit, ’n jong soldaat, met 22 lede van sy familie wat almal offisiere was.

29. Van die stam van Benjamin, Saul se familie, was daar 3 000 soldate. Die meeste Benjaminiete het lojaal aan Saul gebly.

30. Van die stam van Efraim was daar 20 800 soldate, elkeen bekend in sy eie groep.

31. Van die halwe stam van Manasse wat wes van die Jordaan gebly het, is daar 18 000 manne gestuur met die doel om Dawid koning te maak.

1 Kronieke 12