13. En as ’n Christenvrou ’n ongelowige man het en hy vind dit goed om by haar te bly, moet sy nie van hom skei nie.
14. Want die Christenvrou bring ’n atmosfeer van gewydheid oor haar ongelowige man en die Christenman bring ’n atmosfeer van gewydheid oor sy vrou. Anders sou julle kinders nie aan God toegewyd wees nie, maar nou is hulle.
15. (Maar as die ongelowige huweliksmaat daarop aandring om te skei, laat dit dan so wees. In sulke gevalle is die Christenbroer of -suster nie verplig om met die huwelik voort te gaan nie. God wil immers hê dat julle in vrede lewe.)
16. Wie weet, dalk help jy as Christenvrou jou man om verlos te word. Of wie weet, dalk help jy as Christenman jou vrou om verlos te word.
17. Elkeen van julle moet voortgaan in die lewensituasie wat die Here vir julle gegee het toe julle God se roepstem gehoor het. Dit is my opdrag aan al die gemeentes.
18. As jy byvoorbeeld reeds besny was toe jy geroep is, moet jy nie jou besnydenis ongedaan laat maak nie. As jy onbesnede was toe jy geroep is, moet jy jou nie nou laat besny nie.
19. Of jy besny is of nie – dis heeltemal onbelangrik. Wat wel belangrik is, is om God se opdragte na te kom.
20. Gaan dus voort soos julle was toe God julle geroep het.
21. Is jy ’n slaaf? Moet jou nie daaroor verknies nie – maar as jy wel jou vryheid kan verkry, gryp die geleentheid beslis aan.
22. En onthou, alhoewel jy ’n slaaf was toe die Here jou geroep het, het jy ’n vrygemaakte van die Here geword; en omgekeerd, as jy vry was toe jy geroep is, het jy ’n slaaf van Christus geword.