1 Korintiërs 16:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Wat die geld betref wat ons vir die gelowiges in Jerusalem insamel, moet julle dieselfde reëling volg wat ek met die gemeentes in Galasië getref het.

2. Op elke Dag van die Here moet elkeen van julle na vermoë tuis iets opsy sit en dit spaar sodat daar nie eers insamelings plaasvind wanneer ek kom nie.

3. Wanneer ek kom, sal ek die persone waarop julle besluit, met aanbevelingsbriewe stuur om julle gawe in Jerusalem af te lewer.

4. As dit wenslik sou blyk dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.

5. Ek sal na julle toe kom nadat ek deur Masedonië gereis het. Ek reis deur Masedonië

6. en sal miskien by julle vertoef of dalk selfs oorwinter. Dan kan julle my help na my volgende bestemming, waar dit ook mag wees.

7. Ek wil julle nie nou bloot in die verbygaan sien nie, maar ek hoop om ’n rukkie by julle deur te bring as die Here my sal toelaat.

8. Intussen bly ek in Efese tot Pinkster,

9. want hier staan nou ’n wye deur vir my oop en daar is baie mense wat op die evangelie reageer. Daar is egter ook baie teenstanders.

10. As Timoteus by julle aankom, help hom om met volle vrymoedigheid by julle op te tree. Hy doen die Here se werk, net soos ek.

11. Kyk dat niemand hom intimideer nie. En help hom om sy reis voorspoedig voort te sit op pad na my toe. Ek verwag hom saam met die ander broers.

12. Wat ons broer Apollos betref – ek het sterk by hom aangedring om saam met die ander broers na julle toe te kom, maar hy het glad nie kans gesien om nou te kom nie. Hy sal kom wanneer die tyd daarvoor reg is.

13. Wees waaksaam! Staan vas in wat julle glo! Wees moedig! Wees sterk!

1 Korintiërs 16