1 Konings 9:14-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Hiram het meer as vier ton goud aan Salomo gelewer.

15. Salomo het dwangarbeid gebruik om die volgende projekte te bou: die tempel van die Here, die koninklike paleis, die terras en die muur van Jerusalem. Hy het ook die stede Hasor, Megiddo en Geser met hulle herbou.

16. Die farao, koning van Egipte, het Geser verower, die Kanaänitiese inwoners doodgemaak en die stad verbrand. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter gegee toe sy met Salomo getrou het.

17. Daarom het Salomo Geser herbou, asook Bet-Goron-Onder,

18. Baälat en Tamar in die woestyn van Juda.

19. Verder het hy voorraadstede gebou en stede waar sy strydwaens en berede mag gehuisves was. Hy het in Jerusalem, die Libanon en dwarsdeur sy hele ryk alles voltooi wat hy hom voorgeneem het om te bou.

20. In die land was daar nog inwoners wat nie Israeliete was nie. Hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en die Jebusiete.

21. Hulle was die afstammelinge van die volke wat Israel nie volledig uitgeroei het nie. Salomo het hulle opkommandeer om dwangarbeid vir hom te doen. Dis vandag nog so.

22. Salomo het egter geen Israeliet vir dwangarbeid gebruik nie. Hulle was sy soldate, sy lyfwag, sy staatsamptenare, offisiere in sy leër, aanvoerders van sy strydwaens en sy berede magte.

1 Konings 9