10. Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel van die Here en die koninklike paleis te bou.
11. Toe het hy twintig dorpe in Galilea as betaling vir Hiram van Tirus gegee vir al die sederhout, sipreshout en goud wat hy vir die bouprojek nodig gehad het.
12. Hiram het uit Tirus kom kyk hoe die dorpe lyk wat Salomo vir hom gegee het, maar hy was nie daarmee tevrede nie.
13. “Watter soort dorpe is dit wat jy vir my gegee het, my broer?” het hy gevra. “Hierdie dorpe is tog waardeloos!” Daarom word dit tot vandag toe Kabulstreek genoem.
14. Hiram het meer as vier ton goud aan Salomo gelewer.
15. Salomo het dwangarbeid gebruik om die volgende projekte te bou: die tempel van die Here, die koninklike paleis, die terras en die muur van Jerusalem. Hy het ook die stede Hasor, Megiddo en Geser met hulle herbou.
16. Die farao, koning van Egipte, het Geser verower, die Kanaänitiese inwoners doodgemaak en die stad verbrand. Daarna het hy dit as trougeskenk aan sy dogter gegee toe sy met Salomo getrou het.
17. Daarom het Salomo Geser herbou, asook Bet-Goron-Onder,
18. Baälat en Tamar in die woestyn van Juda.
19. Verder het hy voorraadstede gebou en stede waar sy strydwaens en berede mag gehuisves was. Hy het in Jerusalem, die Libanon en dwarsdeur sy hele ryk alles voltooi wat hy hom voorgeneem het om te bou.
20. In die land was daar nog inwoners wat nie Israeliete was nie. Hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en die Jebusiete.
21. Hulle was die afstammelinge van die volke wat Israel nie volledig uitgeroei het nie. Salomo het hulle opkommandeer om dwangarbeid vir hom te doen. Dis vandag nog so.