1 Konings 8:49-57 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

49. luister dan tog in die hemel waar U woon na hulle gebede en smeking, en wees genadig.

50. Vergewe dan u volk wat teen U gesondig het, vergewe al die opstand teen U. Laat dié wat hulle gevange geneem het genade aan hulle betoon,

51. want hulle is u volk, u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gebring het.

52. “Wees tog ontvanklik vir my versoeke en die smekinge van u volk Israel. Luister en antwoord hulle wanneer hulle na U roep.

53. Want toe U ons voorouers uit Egipte gebring het, oppermagtige Here, het U vir Moses u dienaar gesê dat U Israel afgesonder het uit al die nasies op die aarde om u eiendom te wees.”

54. Nadat Salomo klaar gebid het en hierdie dinge van die Here gevra het, het hy opgestaan van waar hy voor die altaar van die Here met sy hande uitgestrek na die hemel toe gekniel het.

55. Hy het gaan staan en die hele gemeente van Israel hardop soos volg geseën:

56. “Loof die Here wat vir sy volk Israel rus gegee het soos Hy beloof het. Nie een woord van al die goeie beloftes wat Hy vir Moses gegee het, het onvervuld gebly nie.

57. Mag die Here ons God met ons wees soos Hy met ons voorouers was. Mag Hy ons nooit verlaat of ons laat vaar nie.

1 Konings 8