48. luister tog na hierdie gebede. As hulle hulle heelhartig en in opregtheid tot U bekeer in die land van gevangenskap; as hulle tot U bid in die rigting van die land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van hierdie stad wat U gekies het, en van hierdie tempel wat ek tot eer van u Naam gebou het,
49. luister dan tog in die hemel waar U woon na hulle gebede en smeking, en wees genadig.
50. Vergewe dan u volk wat teen U gesondig het, vergewe al die opstand teen U. Laat dié wat hulle gevange geneem het genade aan hulle betoon,
51. want hulle is u volk, u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gebring het.
52. “Wees tog ontvanklik vir my versoeke en die smekinge van u volk Israel. Luister en antwoord hulle wanneer hulle na U roep.
53. Want toe U ons voorouers uit Egipte gebring het, oppermagtige Here, het U vir Moses u dienaar gesê dat U Israel afgesonder het uit al die nasies op die aarde om u eiendom te wees.”
54. Nadat Salomo klaar gebid het en hierdie dinge van die Here gevra het, het hy opgestaan van waar hy voor die altaar van die Here met sy hande uitgestrek na die hemel toe gekniel het.
55. Hy het gaan staan en die hele gemeente van Israel hardop soos volg geseën:
56. “Loof die Here wat vir sy volk Israel rus gegee het soos Hy beloof het. Nie een woord van al die goeie beloftes wat Hy vir Moses gegee het, het onvervuld gebly nie.
57. Mag die Here ons God met ons wees soos Hy met ons voorouers was. Mag Hy ons nooit verlaat of ons laat vaar nie.
58. Mag Hy ons die gewilligheid gee om in alles sy wil te doen en om al sy gebooie, bevele en bepalings wat Hy vir ons voorouers gegee het, te gehoorsaam.
59. En mag hierdie woorde wat ek voor die Here gebid het voortdurend, dag en nag, by Hom wees sodat die Here ons God my saak en die saak van sy volk Israel volgens ons daaglikse behoeftes in stand sal hou.
60. Dan sal mense oor die hele wêreld weet dat die Here God is en dat daar geen ander god is nie.
61. En mag julle ten volle toegewy wees aan die Here ons God sodat julle altyd sy bevele en gebooie gehoorsaam soos wat julle dit vandag doen.”