1 Konings 8:47-54 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

47. As hulle egter in daardie land van gevangenskap hulle dalk in berou tot U bekeer en tot U smeek: ‘Ons het oortree, ons het gesondig, ons het kwaad gedoen,’

48. luister tog na hierdie gebede. As hulle hulle heelhartig en in opregtheid tot U bekeer in die land van gevangenskap; as hulle tot U bid in die rigting van die land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van hierdie stad wat U gekies het, en van hierdie tempel wat ek tot eer van u Naam gebou het,

49. luister dan tog in die hemel waar U woon na hulle gebede en smeking, en wees genadig.

50. Vergewe dan u volk wat teen U gesondig het, vergewe al die opstand teen U. Laat dié wat hulle gevange geneem het genade aan hulle betoon,

51. want hulle is u volk, u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gebring het.

52. “Wees tog ontvanklik vir my versoeke en die smekinge van u volk Israel. Luister en antwoord hulle wanneer hulle na U roep.

53. Want toe U ons voorouers uit Egipte gebring het, oppermagtige Here, het U vir Moses u dienaar gesê dat U Israel afgesonder het uit al die nasies op die aarde om u eiendom te wees.”

54. Nadat Salomo klaar gebid het en hierdie dinge van die Here gevra het, het hy opgestaan van waar hy voor die altaar van die Here met sy hande uitgestrek na die hemel toe gekniel het.

1 Konings 8