37. “Indien daar hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, of treksprinkane, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al tref,
38. luister dan. Luister na die gebed en die smeking van die enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek.
39. Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe en gryp in. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen wat hy nodig het, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan.
40. Dan sal hulle aan U gehoorsaam wees, solank hulle woon in die land wat U aan ons voorouers gegee het.
41. “Ook as vreemdelinge wat nie van u volk Israel is nie, van U hoor en uit verre lande kom ter wille van u groot Naam –
42. want hulle sal van U hoor en van u kragtige dade en u mag – as hulle na hierdie tempel toe bid,
43. hoor dan uit die hemel waar U woon en gee dit wat hulle vra. Dan sal al die mense van die aarde U leer ken en eerbied vir U hê net soos u eie volk Israel. Hulle sal ook weet dat hierdie tempel wat ek gebou het aan u Naam gewy is.
44. “As u volk op u bevel uittrek om oorlog teen hulle vyande te maak en hulle tot U, die Here, bid in die rigting van hierdie stad wat U uitgekies het en na hierdie tempel wat ek vir u Naam gebou het,
45. luister dan in die hemel na hulle gebede en smekinge, en gee aan hulle die oorwinning.
46. “As hulle teen u sondig – want wie sondig nie – kan U ontevrede word en hulle oorgee aan hulle vyande wat hulle as gevangenes wegvoer na ’n vreemde land, ver of naby.