1 Konings 18:21-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Elia het voor hulle gaan staan en gesê: “Hoe lank gaan julle nog weier om kant te kies? As die Here God is, volg Hom! Maar as dit Baäl is, volg hóm!” Die volk het egter niks geantwoord nie.

22. Toe sê Elia vir die volk: “Ek is die enigste profeet van die Here wat nog oor is, terwyl daar 450 profete van Baäl is.

23. Bring nou twee bulle. Die profete van Baäl kan een kies, hom in stukke opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Hulle moet dit egter nie aan die brand steek nie. Ek sal die ander bul opsny en bo-op die hout op die altaar neersit. Ek sal dit ook nie aan die brand steek nie.

24. Dan moet julle julle god aanroep en ek sal die Here aanroep. Die een wat met vuur antwoord, is die ware God!” Die hele volk het met hierdie reëling saamgestem.

25. Elia sê toe vir die profete van Baäl: “Kies julle nou ’n bul en kry dit gereed, want daar is baie van julle. Roep dan julle god aan, maar moenie die vuur aan die brand steek nie.”

1 Konings 18