24. ‘Dis wat die Here sê: Moenie teen jou bloedverwante, die Israeliete, gaan veg nie. Gaan terug huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.’” Hulle het die boodskap van die Here gehoorsaam en terug huis toe gegaan soos die Here beveel het.
25. Jerobeam het Sigem in die Efraimsberge herbou en dit sy hoofstad gemaak. Hy het later verhuis en Pniël herbou.
26. Jerobeam het by homself gedink:
27. “Die koningskap kan maklik weer teruggaan na die koningshuis van Dawid. As hierdie volk aanhou om Jerusalem toe te gaan om daar by die tempel van die Here te offer, sal hulle weer vertroue kry in koning Rehabeam van Juda. Hulle sal my doodmaak en teruggaan na Rehabeam, die koning van Juda.”
28. Op advies van sy raadgewers het die koning toe twee goue beelde van kalwers gemaak. Hy sê toe: “Julle het nou lank genoeg Jerusalem toe gegaan, Israel. Hier is die gode wat julle uit Egipte gebring het!”
29. Hy het een kalwerbeeld in Bet-El opgerig en die ander een in Dan.
30. Dit het die volk tot sonde verlei. Die volk het selfs saam in die optog na Dan toe gegaan.
31. Jerobeam het heiligdomme op die hoogtes gebou, en het mense uit die volk wat nie uit die stam van Levi was nie, as priesters aangestel.