18. Wat maak jy dan nou op die pad na Mitzrayim, om die water van die Nyl te drink? Of wat maak jy op die pad na Ashur, om die waters van die Eufraat te drink?
19. Jou eie boosheid sal jou reghelp en jou afvalligheid sal jou bestraf; weet dan en sien dat dit boos en bitter is vir jou om יהוה, jou God, te verlaat; My respekvolle vrees is dan nie in jou nie,” verklaar יהוה, God van die leërskare,
20. “want lank gelede het Ek jou juk verbreek en jou bande afgeskeur, maar jy het gesê: ‘Ek sal nie dien nie,’ want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom het jy gaan lê as ’n hoereerder.
21. Nogtans het Ek jou geplant as ’n keur wingerdstok, ’n heeltemal betroubare saad. Hoe het jy jouself dan voor My verander in die minderwaardige lote van ’n vreemde wingerdstok?
22. Alhoewel jy jou was met loog en baie seep gebruik, is die vlek van jou onregverdigheid voor My,” verklaar יהוה-God.
23. “Hoe kan jy sê: ‘Ek is nie onteer nie; ek het nie agter die Ba’als aan gegaan nie?’ Kyk na jou lewenswyse in die valleie en besef wat jy gedoen het! Jy is ’n jong kameelkoei wat haar stem verhef;
24. ’n wilde-donkie, gewoond aan die wildernis, wat in haar heftige begeerte die wind snuif in die tyd van haar hitte! Wie kan haar wegkeer? Almal wat haar soek, sal hulle nie vermoei nie; in haar maand sal hulle haar kry.
25. Jou voete is moeg, want hulle is nie beslaan nie en jou keel droog van die dors, maar jy het gesê: ‘Ek het sterk geword en is nie bereid om te erken en om te draai nie, want ek het vreemdes liefgehad en sal agter hulle aan loop.’
26. Soos ’n dief beskaamd staan as hy ontdek word, so is die huis van Yisra’el beskaamd; hulle, hulle konings, hulle prinse, hulle priesters en hulle profete,
27. wat vir ’n boom sê: ‘Jy is my vader’ en vir ’n klip: ‘Jy het geboorte gegee aan my,’ want hulle het hulle rug na My toe gedraai en nie die gesig nie, maar in die tyd van hulle moeilikheid sal hulle sê: ‘Staan op en red ons!’
28. Waar is jou gode wat jy vir jouself gemaak het? Laat hulle opstaan as hulle jou kan red in die tyd van jou moeilikheid, want volgens die getal van jou stede is jou gode, o Y’hudah!