17. Die res daarvan, maak hy egter in ’n god, sy gesnede beeld; hy val voor dit neer en aanbid dit; hy bid ook tot dit en sê: ‘Bevry my, want u is my god!’
18. Hulle weet nie en verstaan nie, want Hy het hulle oë toegesmeer sodat hulle nie kan sien nie en hulle harte sodat hulle nie kan begryp nie.
19. Niemand onthou nie en daar is geen kennis of insig om te sê nie: ‘Ek het die helfte daarvan verbrand in die vuur en ook brood gebak op sy kole; ek het vleis gebraai en geëet; dan maak ek die res daarvan in ’n gruwel, ek val neer voor ’n stuk hout!’
20. Hy word gevoed uit as, ’n misleide verstand, wil en emosie het hom laat wegdraai en hy kan homself nie red, of sê nie: ‘Is daar nie ’n leuen in my regterhand nie?’
21. Onthou hierdie dinge, o Ya’akov en Yisra’el, want jy is My dienskneg; Ek het jou gevorm; jy is My dienskneg, o Yisra’el; jy sal nie deur My vergeet word nie.
22. Ek het jou oortredinge van die wet uitgevee soos ’n dik wolk en jou sondes soos ’n swaar mis. Draai terug na My, want Ek het jou losgekoop.”
23. Roep uit van vreugde, o hemele, want יהוה het dit gedoen. Roep vreugdevol uit, laer dele van die aarde! Breek uit in uitroepe van vreugde, o berge, woude en elke boom daarin, want יהוה het Ya’akov losgekoop en in Yisra’el Sy lof, eer en aanbidding gewys.
24. So sê יהוה, jou Loskoper en die Een wat jou gevorm het van die baarmoeder af: “Ek, יהוה, is die Maker van alle dinge, wat Self die hemel uitspan en die aarde heeltemal alleen uitsprei,
25. wat die tekens van die leuenprofete laat faal en die waarsêers tot dwase maak; wat die wyse laat terugtrek en hulle kennis in dwaasheid verander;
26. wat die woord van Sy dienskneg bevestig en die doel van Sy boodskappers uitvoer; wat van Yerushalayim sê: ‘Dit sal bewoon word’ en van die stede van Y’hudah: ‘Hulle sal herbou word’ en ‘Ek sal sy puinhope oprig;’