17. Hy het die toring van P’nu’el afgebreek en die manne van die stad doodgemaak.
18. Toe vra hy vir Zevag en Tzalmuna: “Watter manne was dit wat julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle antwoord: “Hulle was soos u, elkeen het gelyk soos die seun van ’n koning.”
19. Hy het gesê: “Dit was my broers, die seuns van my moeder. So waar as יהוה leef, as julle hulle net laat leef het, sou ek julle nie doodgemaak het nie.”
20. Hy sê toe vir Yeter, sy eersgeborene: “Staan op, maak hulle dood!” Die jongman het egter nie sy swaard uitgetrek nie omdat hy bang was, want hy was nog ’n seun.
21. Toe sê Zevag en Tzalmuna: “Staan u self op en val op ons, want soos die man is, so is sy krag.” Gid’on het toe opgestaan en Zevag en Tzalmuna doodgemaak en die maanornamente, wat aan die nekke van hulle kamele was, gevat.
22. Toe sê die manne van Yisra’el vir Gid’on: “Heers oor ons, u sowel as u seun en u kleinseun, want u het ons bevry uit die hand van Midyan.”
23. Gid’on sê egter vir hulle: “Ek sal nie oor julle heers nie en my seun sal ook nie oor julle heers nie; יהוה sal oor julle heers.”
24. Tog het Gid’on vir hulle gesê: “Ek wil van julle versoek dat elkeen van julle vir my ’n oorring gee uit sy buit!” (Want hulle het goue oorringe gehad omdat hulle Yishma’eliete was.)
25. Hulle het gesê: “Ons sal dit sekerlik gee.” Hulle het toe ’n mantel uitgesprei en elkeen het ’n oorring van sy buit daarop gegooi.
26. Die gewig van die goue oorringe wat hy gevra het, was een duisend sewe honderd sikkels goud, behalwe die maanornamente, die hangertjies en purper klere wat die konings van Midyan gedra het en behalwe die nekbande wat aan die nekke van hulle kamele was.
27. Gid’on het ’n skouerkleed daarvan gemaak en dit in sy stad, `Ofrah, gesit en die hele Yisra’el het agter dit aan hoereer sodat dit vir Gid’on en sy huis ’n valstrik geword het.