Rigters 16:1-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe het Shimshon na `Azah gegaan waar hy ’n hoer gesien en by haar ingegaan het.

2. Toe die manne van `Azah die boodskap kry: “Shimshon het hiernatoe gekom,” omsingel hulle hom en wag die hele nag vir hom by die stadspoort en hulle het die hele nag lank stilgebly en gesê: “Teen dagbreek sal ons hom doodmaak.”

3. Shimshon het gelê tot middernag en teen middernag het hy opgestaan en die deure van die stadspoort en die twee deurposte gegryp en dié met balk en al uitgeruk, hulle op sy skouers gesit en opgedra na die top van die berg wat oorkant Hevron lê.

4. Hierna het dit gebeur dat hy ’n vrou in die dal van Sorek, wie se naam D’lilah was, liefgehad het.

5. Toe kom die meesters van die F’lishtyne na haar toe op en sê vir haar: “Verlei hom en vind uit waarin sy groot krag lê en hoe ons hom kan oorweldig om hom vas te bind en te teister, dan sal ons jou elkeen elf honderd sikkels silwer gee.”

6. D’lilah vra vir Shimshon: “Vertel my asseblief waarin jou groot krag is en waarmee jy vasgebind kan word om jou te pla.”

7. Shimshon sê vir haar: “As hulle my bind met sewe vars koorde wat nie uitgedroog is nie, dan sal ek swak word en wees soos enige man.”

8. Toe het die meesters van die F’lishtyne vir haar sewe vars koorde gebring wat nie uitgedroog was nie en sy het hom daarmee vasgebind.

9. Sy het manne in die binnekamer laat wag en sy sê vir hom: “Die F’lishtyne is op jou, Shimshon!” Hy breek egter die koorde, soos ’n vlastou breek as dit aan vuur raak. Sy krag is nie uitgevind nie.

10. Toe sê D’lilah vir Shimshon: “Let op, jy het my mislei en vir my leuens vertel; vertel my nou asseblief hoe jy vasgebind kan word.”

11. Hy antwoord haar: “As hulle my stewig vasbind met nuwe toue wat nie gebruik is nie, dan sal ek swak word en wees soos enige man.”

12. D’lilah het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind en vir hom gesê: “Die F’lishtyne is op jou, Shimshon,” want die manne het in die binnekamer gewag, maar hy het die toue soos ’n garingdraad van sy arms afgebreek.”

13. Toe sê D’lilah vir Shimshon: “Tot nou toe het jy my mislei en vir my leuens vertel; vertel my hoe jy vasgebind kan word.” Hy antwoord haar: “As jy die sewe lokke van my hare saam met die weefnet invleg en met ’n pen vasmaak.”

14. Terwyl hy slaap, vat D’lilah die sewe lokke van sy hare, weef dit in die weefnet, steek dit vas met die pen en sê vir hom: “Die F’lishtyne is op jou, Shimshon!” Hy het wakker geword uit sy slaap en die weefpen met die weefnet uitgeruk.

15. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê: ‘Ek het jou lief!’ terwyl jou binneste nie met my is nie? Jy het my nou hierdie drie keer mislei en my nie vertel waar jou groot krag is nie”.

16. Dit het gebeur toe sy hom daagliks met haar woorde gedruk en by hom aangedring het dat sy gees vies was tot die dood toe.

Rigters 16