Rigters 11:10-27 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Die oudstes van Gil’ad sê vir Yiftag: “יהוה is getuie tussen ons. Waarlik, ons sal doen soos jy gesê het.”

11. Toe het Yiftag saam met die oudstes van Gil’ad gegaan en die volk het hom as hoof en leier oor hulle aangestel en Yiftag het al sy woorde voor יהוה in Mitzpah gepraat.

12. Nou het Yiftag boodskappers na die koning van die seuns van `Ammon gestuur om te vra: “Wat is tussen u en my dat u na my toe kom om teen my land te veg?”

13. Die koning van die seuns van `Ammon sê vir Yiftag se boodskappers: “Omdat Yisra’el my land weggevat het toe hulle opgekom het vanaf Mitzrayim, vanaf die Arnon sover as tot by die Yabbok en tot by die Yarden, gee hulle nou in vrede terug.”

14. Yiftag het egter weer boodskappers na die koning van die seuns van `Ammon gestuur

15. en vir hom gesê: “So sê Yiftag: Yisra’el het nie die land van Mo’av of die land van die seuns van `Ammon gevat nie,

16. want Yisra’el het, toe hy uit Mitzrayim opgetrek het, deur die wildernis gegaan tot by die Rooisee en by Kadesh gekom.

17. Toe het Yisra’el boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: ‘Laat my asseblief deur u land trek,’ maar die koning van Edom wou nie luister nie en hulle het ook na die koning van Mo’av gestuur, maar hy wou nie instem nie; daarom het Yisra’el in Kadesh gebly.

18. Toe het hulle deur die wildernis, om die land van Edom en die land van Mo’av gegaan en gekom aan die oostekant van die land van Mo’av en hulle het oorkant die Arnon gekamp, maar hulle het nie in die gebied van Mo’av ingegaan nie, want die Arnon is die grens van Mo’av.

19. Yisra’el het boodskappers gestuur na Sigon, die koning van die Emoriete en die koning van Heshbon en Yisra’el het vir hom gesê: ‘Laat ons asseblief deur u land trek na ons plek toe,’

20. maar Sigon het Yisra’el nie vertrou om deur sy gebied te trek nie; Sigon het al sy manne bymekaargemaak en by Yagatz gekamp en teen Yisra’el geveg.

21. יהוה, die God van Yisra’el, het Sigon en sy hele volk in die hand van Yisra’el gegee en dié het hulle verslaan sodat Yisra’el die hele land van die Emoriete, die inwoners van daardie land, besit het.Num 32

22. Hulle het die hele grondgebied van die Emoriete, van die Arnon af, sover as die Yabbok en van die wildernis af tot by die Yarden, besit.

23. Aangesien יהוה, die God van Yisra’el, die Emoriete voor Sy volk Yisra’el uit verdrywe het, is dit dan vir jou om dit te besit?

24. Besit u nie wat u god K’mosh u gegee het om te besit nie? So wat ook al יהוה, ons God, voor ons uit verdrywe het, sal ons besit.Num 23, 25, 31; Deut 2:9

25. Is u nou enigsins beter as Balak, die seun van Tzippor, die koning van Mo’av? Het hy ooit met Yisra’el getwis, of ooit teen hulle geveg?

26. Terwyl Yisra’el in Heshbon met sy dorpies, in `Aro’er met sy dorpies en in al die stede wat langs die Arnon lê, gebly het vir drie honderd jaar lank, waarom het julle dit nie binne daardie tyd teruggevat nie?

27. Ek het daarom nie teen u gesondig nie, maar ú doen kwaad aan my deur teen my oorlog te maak. Mag יהוה-HaShafat (die Regter) vandag oordeel tussen die seuns van Yisra’el en die seuns van `Ammon!”

Rigters 11