Psalms 44:2-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

2. Hoe U die nasies met U eie hand vernietig het en U volk gevestig het; U het die koninkryke geteister en U volk versterk,

3. want hulle het nie die land deur hul swaard geërf nie en hul arm het hulle ook nie gered nie, maar U regterhand, U arm en die Lig van U Teenwoordigheid omdat U tevrede was met hulle.

4. U self is my Koning, o God, want U beveel die oorwinnings vir Ya’akov.

5. Deur U sal ons ons teëstanders deurboor; deur U Karakter en Outoriteit (Naam) sal ons hulle wat ons haat, vertrap,

6. want ons vertrou nie op ons boë nie en nie in ons pantser om ons te beskerm nie,

7. maar U het ons verlos van dié wat ons haat.

8. Ons loof, eer en aanbid U die hele dag lank, o God en ons loof en dank U Naam (Karakter en Outoriteit) met uitgestrekte hande vir ewig.

9. Nou het U ons egter verstoot en tot skande gemaak en U trek nie saam uit met ons leërs nie,

10. maar U laat ons terugdraai van die teëstander en ons vyande plunder ons.

11. U verkoop ons soos slagskape en U het ons onder die nasies verstrooi.

12. U verkoop U volk goedkoop en het geen wins uit hulle verkope nie.

13. U maak ons ’n bespotting vir ons bure, ’n spot en veragting vir die wat rondom ons is.

14. U maak ons ’n spreekwoord onder die nasies, ’n skud van die kop onder die volke.

15. My skande is die hele dag voor my en my vernedering oorweldig my

16. weens die stem van die een wat beskuldig en kwaadpraat, weens die vyand wat wraak neem.

Psalms 44