Numeri 3:33-47 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

33. Vanuit M’rari het die familie van Magli en die familie van Mushi gekom. Dit is die families van M’rari.

34. Die getal van almal wat manlik is, van ’n maand oud en ouer, was ses duisend twee honderd (6 200).

35. Die leier oor die vaders van die families van M’rari se huis is Tzuri’el, die seun van Avigayil; hulle moet kamp opslaan langs die tabernakel, aan die noordekant.

36. Die aangestelde verantwoordelikheid van die seuns van M’rari was oor die raamwerk van die tabernakel, sy balke, sy pilare, sy voetstukke en al die bybehore sowel as al die diens wat daarby hoort

37. en die pilare van die voorhof rondom, hulle voetstukke, hulle penne en hulle toue.

38. Die wat voor die tabernakel moet kamp opslaan, aan die oostekant, voor die Tent van Ontmoeting, waar die son opkom, moet Moshe en Aharon, met sy seuns wees, wat toesig hou oor die Afgesonderde plek en toesig hou oor die seuns van Yisra’el. Die vreemdeling wat naderkom, moet doodgemaak word.

39. Al die Leviete wat getel is, wat Moshe en Aharon, volgens die bevel van יהוה, volgens hulle families getel het, almal wat manlik was, van ’n maand oud en ouer, was twee en twintig duisend (22 000).

40. יהוה het vir Moshe gesê: “Tel al die manlike eersgeborenes van die seuns van Yisra’el, van ’n maand oud en ouer en maak ’n lys van hulle name.

41. Jy moet vir My die Leviete vat, Ek is יהוה, in die plek van al die eersgeborenes van die seuns van Yisra’el en die vee van die Leviete, in die plek van al die eersgeborenes van die vee van die seuns van Yisra’el.”

42. Moshe het, soos יהוה hom beveel het, al die eersgeborenes van die seuns van Yisra’el getel.

43. Al die manlike eersgeborenes volgens die getal name, van ’n maand oud en ouer, volgens die wat getel is, was twee en twintig duisend twee honderd drie en sewentig (22 273).

44. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

45. “Vat die Leviete in die plek van al die eersgeborenes van die seuns van Yisra’el en die vee van die Leviete in die plek van hulle vee sodat die Leviete Myne kan wees. Ek is יהוה.

46. Vir die loskoping van die twee honderd drie en sewentig, uit die eersgeborenes van die seuns van Yisra’el, wat meer is as die Leviete,

47. moet jy vyf sikkels per kop vat; volgens die sikkel van die Afgesonderde plek moet jy dit vat; die sikkel is twintig gerah.

Numeri 3