1. Toe Hy van die berg afkom, het ’n groot skare mense Hom gevolg
2. en let op, ’n sekere melaatse man het gekom en voor Hom neergeval en gesê: “My Meester, as U wil, is U in staat om my te reinig.”
3. Yeshua het Sy hand uitgesteek, aan hom geraak en gesê: “Ek wil, wees rein.” In daardie oomblik is sy melaatsheid gereinig.
4. Yeshua sê vir hom: “Wees versigtig wat jy aan iemand sê, maar gaan wys jouself aan die priester en offer die offer wat Moshe beveel het, tot ’n getuienis vir hulle.”
5. Toe Yeshua K’far-Nagum binnegaan, kom daar ’n kaptein oor honderd na Hom toe en vra ernstig van Hom
6. en sê: “My Meester, my seun lê tuis verlam en word ernstig gepynig.”
7. Daarop sê Yeshua vir hom: “Ek sal gaan en hom gesond maak.”
8. Die kaptein oor honderd antwoord en sê: “My Meester, ek is nie waardig dat U onder my dak inkom nie, maar sê slegs ’n woord en my seun sal gesond wees,
9. want ek self is ook ’n man onder outoriteit en ek het soldate onder my en vir hierdie een sê ek: ‘Gaan!’ en hy gaan en vir ’n ander een: ‘Kom!’ en hy kom en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”
10. Toe Yeshua dit hoor, was Hy beïndruk en het aan die wat saam met Hom gekom het gesê: “Sowaar Ek sê vir julle, selfs in Yisra’el het Ek so ’n vertroue nie gevind nie,
11. want Ek sê vir julle dat baie vanaf die ooste en vanaf die weste sal kom en saam met Avraham, Yitz’gak en Ya’akov sal skuinslê in die Koninkryk van die hemel,
12. maar die kinders van die koninkryk sal uitgegooi word in die duisternis daar buite. Daar sal ’n gehuil wees en ’n gekners van tande.”