Mattityahu 7:21-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

21. Nie elkeen wat vir My sê: ‘My Meester, my Meester,’ sal ingaan in die Koninkryk van die hemel nie, maar hy wat die wil van My Vader, wat in die hemel is, doen.

22. Op daardie dag sal baie vir My sê: ‘My Meester, my Meester, het ons nie in U Outoriteit en Karakter (Naam) geprofeteer en in U Outoriteit en Karakter demone uitgedryf en in U Outoriteit en Karakter baie kragtige dade gedoen nie?’Ps 6:9

23. Dan sal Ek vir hulle sê: ‘Ek het van die begin van tyd af nie met julle ’n verbondsooreenkoms gehad nie. Gaan ver weg van My af, julle wat teen die wet werk!’

24. Elkeen wat daarom na hierdie boodskappe van My luister en dit doen, sal vergelyk word met ’n wyse man wat sy huis op ’n soliede rots bou

25. en die reën het geval en die waterstrome het aangestorm en die winde het teen daardie huis gewaai en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die soliede rots.

26. Elkeen wat hierdie boodskappe van My hoor en dit nie gehoorsaam nie, sal vergelyk word met ’n dwase man wat sy huis op sand bou

27. en die reën het geval en die waterstrome het aangestorm en die winde het teen daardie huis gewaai en dit het inmekaargeval en sy val was groot.”

28. Toe Yeshua die boodskappe klaar gebring het, was die skare verslae oor Sy leringe,

29. want Hy het hulle geleer soos een wat self outoriteit het en nie soos die leraars van die wet en die Fariseërs nie.

Mattityahu 7