Mattityahu 27:45-57 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

45. Van die sesde uur (twaalf uur middag) af het daar duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur (drie uur) toePs 22:2

46. en omtrent die negende uur het Yeshua met ’n harde stem uitgeroep en gesê: “My Magtige God! My Magtige God! Waarom spaar U my nog (duur dit voort)?”

47. Sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: “Hy roep vir Eliyahu.”Ps 69:22

48. Toe hardloop daar dadelik een van hulle en vat ’n spons, maak dit vol asyn, sit dit op ’n riet en gee vir Hom om te drink,

49. maar die ander sê: “Neem dit weg, laat ons sien of Eliyahu kom om Hom te verlos,”

50. maar Yeshua het weer met ’n harde stem uitgeroep en Sy Gees het Hom verlaat.

51. Onmiddellik het die gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo na onder, die aarde het gebewe, die rotse het oopgebreek,

52. die grafte het oopgegaan en baie liggame van die afgesonderdes, het opgestaan.

53. Hulle het weggegaan van die grafte af en ná Sy opstanding het hulle in die afgesonderde stad ingekom en aan baie verskyn.

54. Toe die hoofman oor ’n honderd en die wat saam met hom by Yeshua waggehou het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Waarlik, hierdie is die Seun van God.”

55. Daar was baie vroue wat van ver af gekyk het, wat vir Yeshua van die Galil af gevolg en Hom versorg het.

56. Tussen hulle was daar Miryam van Migdala en Miryam, die moeder van Ya’akov en Yosef en die moeder van die seuns van Zavdai.

57. Toe dit aand geword het, het daar ’n ryk man van Ramatayim gekom met die naam van Yosef, wat self ook ’n studentevolgeling van Yeshua was.

Mattityahu 27