Mattityahu 23:1-14 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe het Yeshua met die mense en met Sy studentevolgelinge gepraat

2. en vir hulle gesê: “Die leraars van die wet en die Fariseërs het gaan sit op die stoel van Moshe;

3. daarom moet julle alles wat hulle vir julle sê om te onderhou, onderhou en doen, maar moenie doen soos hulle doen nie, want hulle praat en doen nie,

4. want hulle bind swaar laste en sit dit op die skouers van die mense, maar hulle is nie gewillig om hulle vinger te verroer en daaraan te raak nie,

5. maar alles wat hulle doen, doen hulle om deur die mense gesien te word. Hulle maak hul gebedskassies breed en die blou draad in hul tossels aan hulle klere lank.

6. Hulle is lief vir die eersteklas sitplekke by feeste en die eersteklas sitplekke in bymekaarkomplekke,

7. die groetwense op die stadsplein en om deur die mense ‘my groot een’ genoem te word,

8. maar julle, laat julle nie ‘my groot een’ noem nie, want daar is net Een wat Groot is en julle is almal broers.

9. Julle moenie julleself op die aarde vader noem nie, want een is julle Vader: Hy wat in die hemel is.

10. Julle moet julle ook nie leiers laat noem nie, want een is julle Leier: Die Gesalfde Een.

11. Hy wat groot is onder julle moet julle dienskneg wees

12. en enige een wat homself verhoog, sal verneder word en wie homself verneder, sal verhoog word,

13. maar wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van vals karakters, wat die huise van die weduwees verteer deur ’n offer van lang herhaling van woorde in julle gebede; as gevolg hiervan sal julle ’n groter oordeel ontvang.

14. Wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van vals karakters, want julle maak die Koninkryk van die hemel toe voor die mense; omrede julle self nie ingaan nie, laat julle nie toe dat hulle wat wil, ingaan nie.

Mattityahu 23