20. Toe kom die moeder van die seuns van Zavdai met haar seuns na Hom toe en val voor Hom neer om iets van Hom te vra
21. en Hy sê vir haar: “Wat begeer jy?” Sy antwoord Hom: “Sê dat hierdie twee seuns van my in U Koninkryk, een aan U regter- en een aan U linkerhand, mag sit.”
22. Yeshua antwoord en sê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek gereed is om te drink en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?” Hulle sê vir Hom: “Ons kan.”
23. Hy sê vir hulle: “My beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word, maar om te sit aan My regter- en aan My linkerhand is nie Myne om te gee nie, behalwe aan hulle vir wie dit, deur My Vader, voorberei is.”
24. Toe die tien dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers.
25. Yeshua het hulle geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies baas speel oor hulle en die leiers outoriteit het oor hulle,
26. maar só moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees
27. en wie ook al tussen julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees;
28. net soos die Seun van die mens nie gekom het om bedien te word nie, maar om te dien en Homself as ’n Losprys vir baie te gee.”
29. Toe Yeshua uit Yerigo uitgaan, het ’n groot skare mense saam met Hom gegaan
30. en let op, twee blindes het langs die pad gesit en toe hulle hoor dat Yeshua verbygaan, skreeu hulle uit en sê: “Ons Meester, gee om vir ons, Seun van Dawid!”
31. Die skare het hulle bestraf dat hulle moes stilbly, maar hulle het al harder geskreeu en gesê: “Ons Meester, gee om vir ons, Seun van Dawid!”
32. Yeshua het gestop en roep hulle en sê: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”
33. Hulle antwoord Hom: “Ons Meester, sodat ons oë geopen mag word.”
34. Yeshua het vir hulle baie jammer gevoel en hulle oë aangeraak en in ’n oomblik is hulle oë oopgemaak en hulle het Hom gevolg.