Mattityahu 13:38-54 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

38. en die land is die wêreld. Die goeie saad is die kinders van die Koninkryk, maar die vals saad is die kinders van die bose een.

39. Meer nog, die vyand wat hulle gesaai het, is die teëstander. Die oestyd is die einde van die wêreld en die maaiers is die engele.

40. Net soos die darrel bymekaargemaak en in die vuur verbrand word, sal dit wees aan die einde van hierdie wêreld:

41. die Seun van die mens sal Sy boodskappers uitstuur en hulle sal uit Sy Koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat wetteloosheid beoefen

42. en hulle in die intensiteit van vuur gooi. Daar sal gehuil wees en gekners van tande.

43. Dan sal die onskuldiges skyn soos die son in die Koninkryk van hulle Vader. Wie ook al ’n oor het wat wil hoor, laat hom luister.

44. Weer: die Koninkryk van die hemel is soos ’n skat wat weggesteek is in ’n stuk grond, wat ’n man kry en geheim hou en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het en koop daardie grond.

45. Weer: die Koninkryk van die hemel is soos ’n handelaar wat mooi pêrels soek

46. en toe hy ’n sekere pêrel vind wat voor die hand liggend baie kosbaar is, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het en koop dit.

47. Weer: die Koninkryk van die hemel is soos ’n net wat in die see gegooi word en van alle soorte bymekaarmaak

48. en toe dit vol was, het hulle dit op die strand uitgebring en gaan sit en dit uitgesoek. Die goeies het hulle in houers gesit en die slegtes uitgegooi.

49. So sal dit wees aan die einde van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense van die onskuldiges afskei

50. en hulle in die intensiteit van vuur gooi. Daar sal gehuil wees en gekners van tande.”

51. Yeshua sê vir hulle: “Het julle ál hierdie dinge verstaan?” Hulle antwoord Hom: “Ja, ons Meester!”

52. Hy sê vir hulle: “As gevolg hiervan is elke leraar van die wet, wat opgelei word vir die Koninkryk van die hemel, soos die meester van ’n huis wat uit sy skat nuwe en ou dinge bring.”

53. Dit was nadat Yeshua klaar was met hierdie vergelykende stories dat Hy daarvandaan weggegaan het

54. en Hy het in Sy stad gekom en hulle in hulle bymekaarkomplekke geleer sodat hulle verslae was en gesê het: “Van waar kry Hy hierdie wysheid en wonderwerke vandaan?

Mattityahu 13