Markos 11:19-33 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

19. Toe dit aand word, het hulle uitgegaan, buitekant die stad

20. en in die oggend toe hulle verbygaan, sien hulle die vyeboom: verdroog van die wortels af

21. en Shim’on het onthou en vir Hom gesê: “Leermeester, let op, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.”

22. Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Julle moet vertroue, wat van God is, in julle hê,

23. want, dit is waar, Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jouself op en werp jou in die see’ en nie in sy gedagtes twyfel nie, maar vertrou dat wat hy sê, sal gebeur, dit sal vir hom gedoen word; net wat hy sê.

24. Ek sê daarom vir julle: ‘Alles wat julle in gebed vra, vertrou dat julle besig is om dit te ontvang en dit sal so wees vir jou

25. en wanneer julle staan en bid, vergewe as julle iets teen iemand het sodat julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredinge kan vergewe,

26. maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemel is, ook nie julle oortredinge vergewe nie’.”

27. Hulle het weer in Yerushalayim gekom en terwyl Hy in die tempel loop, kom die leierpriesters en die leraars van die wet en die oudstes na Hom toe

28. en sê vir Hom: “In watter outoriteit doen U hierdie dinge en wie het vir U hierdie outoriteit gegee om hierdie dinge te doen?”

29. Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Ek sal julle ook een vraag vra en antwoord julle My, dan sal Ek julle sê in watter outoriteit Ek hierdie dinge doen:

30. ‘Die doop van Yoganan, van waar was dit, vanaf die hemel of vanaf mense? Vertel My.’”

31. Hulle het by hulleself geredeneer en gesê: “As ons sê: ‘Vanaf die hemel,’ sal Hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’

32. As ons sê: ‘Van mense,’ is ons bang vir die mense, want almal beskou Yoganan as ’n ware profeet.”

33. Hulle antwoord en sê vir Yeshua: “Ons weet nie” en Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle in watter outoriteit Ek hierdie dinge doen nie.”

Markos 11