7. Die oortredingsoffer is net soos die sondoffer, een wet geld vir hulle; dit is vir die priester wat daardeur toedekking doen.
8. Die priester wat iemand se brandoffer offer, daardie priester sal die vel van die brandoffer wat hy geoffer het, vir homself vat;
9. asook elke graanoffer wat in die oond gebak word, alles wat in die pan of op die plaat voorberei is, sal vir die priester wat dit offer wees.
10. Elke graanoffer, met olie gemeng of droog, sal vir al die seuns van Aharon, vir die een soos vir die ander, wees.
11. Hierdie is die wet van die vredesoffer wat tot יהוה aangebied sal word:
12. as hy dit as dankoffer bring, moet hy saam met die dankoffer, ongesuurde koeke met olie gemeng, ongesuurde platkoeke met olie gesmeer of koeke van fyn meel gemeng met olie offer.
13. Saam met die offer vir sy dankoffer as vredesoffer, moet hy koeke offer van gesuurde brood.
14. Van dit, een koek van elke offer, moet hy as opligoffer aan יהוה offer; dit sal wees vir die priester wat die bloed van die vredesoffer sprinkel.
15. Die vleis van sy dankoffer as vredesoffer moet geëet word op dieselfde dag as wat hy dit offer; hy mag niks daarvan los tot die oggend toe nie.
16. As die offer wat hy offer, ’n gelofte of vrywillige offer is, moet dit geëet word op dieselfde dag as wat hy sy offer bring en op die volgende dag mag, wat daarvan oorbly, geëet word,
17. maar wat van die vleis, wat geoffer is, oorgebly het op die derde dag, moet met vuur verbrand word.
18. As enige van die vleis van sy vredesoffer op die derde dag geëet word, sal hy wat dit geoffer het nie aanvaar word nie; dit sal vir hom nie toegereken word nie; dit sal ’n gruwel wees en die persoon wat daarvan eet, moet sy eie skuld dra.