Levitikus 5:7-16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

7. As hy nie kleinvee kan bekostig nie, moet hy vir die skuld van sy sonde, twee tortelduiwe of twee jong duiwe aan יהוה bring, een as sondoffer en een as ’n brandoffer;

8. hy moet hulle na die priester bring, wat die een, wat as sondoffer bedoel is, eerste moet offer en sy kop by sy nek afknyp sonder om dit af te skeur.

9. Hy moet van die bloed van die sondoffer teen die kant van die altaar sprinkel, maar wat oorbly van die bloed, moet aan die onderkant van die altaar gedreineer word; dit is ’n sondoffer.

10. Die tweede een moet hy as ’n brandoffer, volgens voorskrif, offer. So moet die priester vir hom toedekking doen weens die sonde wat hy gedoen het en dit sal hom vergewe word.

11. As hy nie twee tortelduiwe of twee jong duiwe kan bekostig nie, moet hy as offer, vir wat hy gesondig het, ’n tiende van ’n efa fyn meel as sondoffer bring. Hy moet geen olie daarop gooi en geen wierook daarby sit nie, want dit is ’n sondoffer.

12. Hy moet dit na die priester bring en die priester moet daar ’n vol handvol van vat as die herdenkingsdeel en dit op die altaar in rook laat opgaan volgens die offers deur vuur tot יהוה. Dit is ’n sondoffer.

13. So moet die priester vir hom toedekking doen vir die sonde wat hy gedoen het in enige een van hierdie gevalle en dit sal hom vergewe word. Die res behoort aan die priester, net soos die graanoffer.’”

14. יהוה het ook met Moshe gepraat en gesê:

15. “As iemand ’n oortreding begaan en onwetend sondig met betrekking tot die afgesonderde dinge van יהוה, moet hy ’n ram, sonder gebrek, vanuit die kleinvee, na יהוה bring vir sy oortreding, na jou skatting van die waarde in sikkels silwer, volgens die sikkel van die Afgesonderde plek, as ’n oortredingsoffer.

16. Hy moet vergoeding gee vir wat hy ten opsigte van die afgesonderde dinge gesondig het en nog ’n vyfde deel daarvan byvoeg en dit aan die priester gee. So moet die priester vir hom toedekking doen deur die oortredings-offerram en dit sal hom vergewe word.

Levitikus 5