Levitikus 26:27-45 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

27. Na al hierdie, as julle My nie gehoorsaam nie, maar julle teen My versit,

28. sal Ek My in woede teen julle versit en Ek, ja Ek, sal julle sewevoudig dissiplineer vir julle sondes.

29. Julle sal die vlees van julle seuns eet en julle sal die vlees van julle dogters eet.

30. Ek sal julle hoë plekke verwoes, julle wierook altare afbreek en julle lyke op die lyke van julle afgode gooi en My Persoon sal ’n afsku in julle hê.

31. Ek sal julle stede puinhope maak en julle afgesonderde plekke verwoes en julle aangename geure nie ruik nie.

32. Ek sal die land tot verwoesting bring en julle vyande wat daarin gaan woon, sal daaroor verstom staan.

33. Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek en julle land sal ’n wildernis word en julle stede sal vernietig word.

34. Dan sal die land sy Shabbatte geniet, solank as dit woes lê terwyl julle in die land van julle vyande is; dan sal die land rus en sy Shabbatte geniet.

35. Al die dae van sy woestheid sal dit rus, want dit het nie gerus op julle Shabbatte, toe julle daarin gewoon het nie.2 Kro 36:21; Yir 29:10

36. Wat betref diegene wat onder julle oorgebly het; Ek sal in hulle hart ’n vreesagtigheid bring in die lande van hulle vyande sodat die geruis van ’n waaiende blaar hulle op die loop sal jaag en hulle sal vlug, soos ’n mens vir ’n swaard vlug en val sonder dat iemand agtervolg.Yes 51:13

37. Hulle sal struikel, die een oor die ander, soos voor ’n swaard, wanneer niemand agtervolg nie en julle sal geen krag hê om voor julle vyande te staan nie.

38. Julle sal omkom onder die nasies en die land van julle vyande sal julle verteer

39. en die wat onder julle oorgebly het, sal oor hulle skuld wegteer in die lande van julle vyande; ook oor die skuld van hulle vaders wat by hulle is, sal hulle wegteer.

40. As hulle hul skuld bely en die skuld van hulle vaders, met hulle ontrouheid waarmee hulle ontrou teen My opgetree het en ook dat hulle hul teen My versit het

41. sodat Ék My ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande gebring het, wanneer hulle onbesnede harte verneder is en hulle hul skuld erken,Hand 7:51

42. dan sal Ek My verbond met Ya’akov onthou en My verbond met Yitz’gak en My verbond met Avraham sal Ek onthou en Ek sal die land onthou.

43. Die land moet eers van hulle verlate wees en tevrede wees met sy Shabbatte terwyl dit woes lê sonder hulle; húlle sal hulle skuld erken omdat hulle My wette verwerp en hulle lewe My reëls verafsku het.

44. Tog, na alles, wanneer hulle in die land van hul vyande is, sal Ek hulle nie verwerp nie en sal Ek hulle nie verafsku nie sodat Ek hulle sou vernietig en My verbond met hulle sou verbreek nie, want Ek is יהוה, hulle God.

45. Ek sal egter vir hulle onthalwe die verbond met hulle voorvaders, wat Ek uit Mitzrayim voor die oë van die nasies uitgelei het, onthou, om vir hulle ’n God te wees. Ek is יהוה.’”

Levitikus 26