Levitikus 23:27-44 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

27. “Op presies die tiende dag van hierdie sewende maand is dit die dag van Toedekking. Dit sal vir julle ’n afgesonderde byeenkoms wees en julle moet in nederigheid vas en ’n offer, deur vuur, tot יהוה offer.

28. Op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is ’n Toedekkingsdag (Yom Kippur) om vir julle toedekking te doen voor die Teenwoordigheid van יהוה, julle God,

29. want elkeen wat op daardie selfde dag nie nederig vas nie, moet van sy volksgenote afgesny word;

30. asook elkeen wat op daardie selfde dag enige werk doen, dié persoon sal Ek vernietig vanuit sy volk.

31. Julle mag géén werk doen nie; dit is ’n ewige instelling in al julle geslagte, oral waar julle bly.

32. Dit sal vir julle ’n Shabbat van volkome rus wees en julle moet in nederigheid vas. Vanaf die negende van die maand met sonsondergang, vanaf sonsondergang tot sonsondergang, moet julle jul Shabbat hou.”

33. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

34. “Praat met die seuns van Yisra’el en sê: ‘Op die vyftiende dag van hierdie sewendeYog 7:2 maand is dit vir sewe dae lank die Huttefees (Sukkot) tot יהוה.

35. Op die eerste dag sal daar ’n afgesonderde byeenkoms wees; julle mag géén gewone werk doen nie.

36. Sewe dae lank moet julle ’n offer, deur vuur, tot יהוה offer. Op die agtste dag moet daar vir julle ’n afgesonderde byeenkoms wees en julle moet ’n offer, deur vuur, tot יהוה offer. Dit is ’n bymekaarkoms en julle mag geen gewone werk doen nie.

37. Hierdie is die vasgestelde tye van יהוה, wat julle moet verkondig as afgesonderde byeenkomste, om offers, deur vuur, tot יהוה te offer: brandoffers, graanoffers, slagoffers en drankoffers, vir elke dag volgens voorskrifte;

38. bo en behalwe die Shabbatte van יהוה en bo en behalwe julle gawes en bo en behalwe al julle geloftes en bo en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan יהוה gee.

39. Ook op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrengs van die land insamel, moet julle die fees van יהוה sewe dae lank vier; met ’n rus op die eerste dag en ’n rus op die agtste dag.

40. Op die eerste dag moet julle vir julle die vrugte neem van mooi bome, met palmtakke en takke van digte bome en wilgers van die rivier af en julle sal julle vir sewe dae voor die Teenwoordigheid van יהוה verheug.Neg 8:15-18

41. Julle moet dit as ’n fees tot יהוה vier, vir sewe dae in die jaar. Dit is ’n ewige instelling in julle geslagte. Julle moet dit in die sewende maand vier.

42. Sewe dae lank moet julle in hutte bly; almal wat as deel van Yisra’el gebore is, moet in hutte woon

43. sodat julle geslagte kan weet dat Ek die seuns van Yisra’el in hutte laat woon het toe Ek hulle uit die land van Mitzrayim uitgebring het. Ek is יהוה, julle God.’ “

44. So het Moshe dan die feeste van יהוה aan die seuns van Yisra’el bekend gemaak.

Levitikus 23